Jurgen was nie die enigste Hanekom wat Duitsland verlaat het nie. Ander familie het na Amerika en Kanada gegaan waar daar ook heelwat Hanekoms te vinde is. In meer huidige tye het baie Hanekoms weer op hulle beurt Suidafrika verlaat en hulle elders gevestig, en so het ek Hanekoms opgespoor in Australië, Nieu Seeland, Namibië, Uganda, die VSA, Saudi Arabië, Nederland en in Engeland, waar ons self nou al sedert die jaar 2000 woon en werk.

Met die loop van jare het Jurgen en sy nasate begin wegtrek uit Drakenstein, en hoofsaaklik in Moorreesburg se omgewing beland, waar die meeste Hanekoms nog steeds te vinde is. Oor my tak van die familie is daar egter nie veel inligting nie. My nuutste navorsing dui aan dat ek afstam van ‘n Hanekom wat saam met een of ander trek in die Karoo beland het (Lady Grey/Aliwal Noord omgewing), en vandaar weggetrek het op soek na groener weivelde. In die proses het hulle in Upington, Hopetown en Kimberley se omgewing beland voordat hulle uiteindelik in Namibië ‘n tuiste gevind het.