Net so vinnige stukkie agtergrond oor ons herkoms, vir besoekers by hierdie webwerf wat dit nie reeds weet nie.

Volgens ‘n databasis van VOC reise na die verskillende basisse onder hulle beheer, het ene Joris Hanekoom wat vanaf Lunenburgerlant uit Radelose afkomstig was op 16 Augustus 1706 met die skip Kiefhoek as soldaat aan die Kaap aangekom. Dit was feitlik verseker onse Stamvader Jürgen, want ‘Radelose’ is net ‘n verhollandse vorm van ‘Rathlosen’, en die gebied waaruit Jürgen gekom het staan tot vandag toe nog bekend as die Lünebürger Heide.

Die term ‘soldaat’ is ietwat misleidend, want volgens VOC Stamouers is dit ‘n rang wat menige dokter, prokureur, landmeter en mense van ander beroepe beklee het nadat hulle teen minimumloon deur die VOC in diens geneem is en na die verskillende VOC basisse verskeep is. Volgens steekproewe uit die tydperk van Jürgen se aankoms aan die Kaap was amper 70% van ‘soldate’ buitelanders wat by die VOC aangesluit het om haglike toestande in hulle eie lande te ontsnap. Gebeurtenisse soos die 30-jarige oorlog (1618-1648) wat onder andere Noordduitsland swaar getref het, die herroeping van die Edik van Nantes in 1685 wat veroorsaak het dat die Hugenote Frankryk verlaat het, en soortgelyke gebeure elders, het groot getalle werknemers vir die VOC verskaf.

Volgens navorsers was daar in die periode 1657-1707 ongeveer 528 vryburgers aan die Kaap, waarvan 45 hoër amptenare was, 21 beroepslui (insluitende een houtkapper!), 273 beroepsoldate en 116 seelui.

Uit wat ons van hom weet is dit duidelik dat Jürgen vir niks teruggestaan het nie. Die eerste aanduiding daarvan was sy vertrek op 17 of 18-jarige ouderdom uit Duitsland, ‘n besluit wat sekerlik nie maklik kon wees vir ‘n jong man in ‘n gevestigde land nie.

As houtkapper aan die Kaap, toe nog maar kwalik 50 jaar lank gevestig, moes hy sekerlik ook in taamlik onbetrede gebiede met onsekere gevare ingaan om sy werk te doen, en van die notules van die Beleidsraad aan die Kaap leer ons dat dit maar onrustige tye was, met misdaad en onrus aan die orde van die dag. Feitlik elke notule maak melding van die behoefte aan gewere, buskruit en koeëls wat benodig was om die Burgermag te bewapen.

Jurgen het vanaf sy aankoms tot ongeveer 1712 as houtkapper gewerk, en daarna as een van die beroepsoldate. Volgens beskikbare rekords weet ons hy was in 1713 ‘n korporaal (een van ses) daar in die burgermag, en in Augustus 1715 is hy tot sersant bevorder (een van drie). Hieruit is dit duidelik dat hy ‘n bekwame man was, en dat sy vermoëns gou herken is.

Op 12 Maart 1714 het hy van Willem Helot die reg verkry om sy vee te laat wei en graan te saai in die “Witte Valleij” in Drakenstein. (Vgl. R.L.R.1: Oude Wildschutte Boek, 1712-1714, p. 110.) Hierdie was vermoedlik die plaas wat in die volgende jaar aan hom toegeken sou word

In 1715 is ‘n plaas met die naam “de Natte Valleij” aan die westelike voetheuwels van Simonsberg aan hom toegeken. Hy het later ook ‘n buurplaas met die naam Lievland teen die hange van Simonsberg by Drakenstein bekom, en later die plaas Moddervlei aan die Olifantsrivier, waar hy in 1739 geboer het. Daar is heelwat inligting oor sy nasate, hoofsaaklik agv die goeie rekordhouding deur die jare oor geboortes, huwelike en sterftes deur verskillende kerke en owerhede.

Asof dit alles nie genoeg was om hom voltyds besig te hou nie, besluit hy om te trou – en nie sommer net met enige vrou nie! Nee, hy kies Johanna van den Boschen wat reeds twee vorige mans oorleef het, en sy bring al haar vorige mans se kinders die huwelik in. Daar is so ‘n bietjie onsekerheid oor hulle troudatum, want amptelike rekords sê dat dit op 11 November 1717 plaasgevind het, Die rekords teken egter ook aan dat Jurgen en Johanna teen daardie tyd reeds self twee kinders gehad het, en die vermoede bestaan dat hulle reeds in 1713 getrou het, ‘n jaar na die afsterwe van Johanna se tweede man, Maurits van Staden.

Hier is ‘n paar verwysings na notules van vergaderings van die VOC se Beleidsraad aan die Kaap van Goeie Hoop wat ‘n interessante insig gee van die gebeurtenisse van die tyd, en Jurgen se kontak met die amptenary

Reference code: C. 33, pp. 108-112
Reference code: C. 36, pp. 95-117
Reference code: C. 37, pp. 46-63
Reference code: C. 84, pp. 11-18
Reference code: C. 110, pp. 53-104
Reference code: C. 209, pp. 145-155