Vroeë Geskiedenis

Die eerste Hanekom in Suidafrika was ene Jürgen Hanekom, gebore omstreeks 1688 in Rathlosen, naby Sulingen in Duitsland. Omdat daar nie ‘n kerk in Rathlosen was nie, is hy heelwaarskynlik gedoop in die St Nicolai Kerk in Sulingen, waar die streeksregering ook gesetel was.

Al die kerkargiewe het ongelukkig in vlamme opgegaan in die groot brand van 1719, toe groot gedeeltes van Sulingen vernietig is. Die Superintendent van die kerk het probeer om ‘n ‘Sieleregister’ van lidmate op te stel om van die verlore inligting te herwin, maar al wat my kontakpersoon by die kerkargiewe kon opspoor was die volgende inskrywing:

Geboren
1679 Johann Hannekohm geheiratet 1706
1687 Geske die Frau
1707 Hinrich
1716 Rolff
1713 Ahlert
1715 Ilsa Margareta
1666 Hilmer der Vater geheiratet 1696 Hinrich Hannekohms Witwe
1653 Geske die Mutter
1697 Ilsa die Tochter

Die argivaris het bygevoeg dat by Hilmer der Vater dit waarskynlik is dat hy sy vrou se van aangeneem het, omdat Hilmer ook as ‘n Hannekohm in die register verskyn.

Van Jürgen is daar in hierdie inskrywing geen sprake nie, omdat hy reeds etlike jare vantevore uit Rathlosen weg is en dus nie meer deel was van die gemeente nie.

Uit die rekord wat gevind is maak ek die afleiding dat Hinrich Hannekohm Jürgen se pa moes wees, Geske sy ma, en Johann ‘n ouer broer. Geske is na Hinrich se dood weer getroud met Hilmer, en Ilsa is uit hierdie huwelik gebore. Broer Johann is in 1706 getroud, en daar is vier kinders gebore uit die huwelik met Geske – Hinrich (1707) , Ahlert (1713) ,Ilsa Margareta (1715), en Rolff (1716)

Dit is opmerklik hoe baie van die Hanekoms se familiename het hieruit ontstaan – soos Hendrik/Dirk Hendrika/Hendrina (Hinrich), Aldert/Albert/Albertus (Ahlert), Elizabeth (Ilsa), Margaretha/Magrieta (Margareta), Johan/Johannes/Johanna (Johann), Jurgen/Jurgens (Jürgen), Geesje/Gesina (Geske) en Hilletje (Hilmer).

Ons weet nie hoe Rathlosen gelyk het ten tye van Jürgen se vertrek in 1705 of 1706 nie, maar in die moderne Duitsland sal ‘n mens die dorpie maklik miskyk as jy jou oë op die verkeerde tyd knip. Dit is in ‘n landelike gebied en het maar ‘n bevolking van sowat 250 mense wat hoofsaaklik op plase woon.

Volg die skakel hieronder om Rathlosen in volle glorie te besoek, met Sulingen omtrent 6 km suidoos daarvandaan soos die kraai vlieg. Hanover is omtrent 100 km suidoos vanaf Rathlosen.

 Rathlosen bei Sulingen, Diepholz, Nedersakse, Duitsland

Die gebied rondom Rathlosen was reeds in die steentyd bevolk, maar die naam word vir die eerste keer in omstreeks 1230 aangeteken. Die naam dui op ‘n nedersetting in of naby ‘n woud wat afgekap is. Dit bestaan uit ‘n samevoeging van drie woorde: ‘gerodet’ (uitgeroei), ‘loh’ (‘n ou Duitse woord vir ‘woud’) en ‘Hausen’ (wat op huise, of ‘n nedersetting dui). Letterlik dus die Huise Naby Die Afgekapte Woud.

Daar is nog tekens van woude, of oorblyfsels daarvan, omtrent 3km suidwes van die hedendaagse Rathlosen, in die omgewing wat op die kaart aangedui word as Kolonie Rathlosen.

Sou die stelselmatige vernietiging van die woude oor ‘n periode van 500 jaar dalk een van die redes wees dat ‘n jong bosbouer of boerseun sy fortuin elders moes gaan soek? Of was daar ander redes? Kom ons ondersoek so ‘n bietjie die geskiedenis van die streek.

Hoe die nedersetting ontstaan het, en hoe dit deur die eeue ontwikkel en tot niet gegaan het is ‘n duistere storie omdat daar weinig geskrewe inligting beskikbaar is. Hoe verder terug ‘n mens probeer navors, hoe moeiliker word dit. In baie gevalle is die enigste leidrade waarop ‘n mens kan terugval die resultate van die weinige argeologiese opgrawings in die gebied, of die toevallige fonds van ‘n boer wat iets uitploeg. Ek glo egter dat die hele streek se politieke, ekonomiese en godsdienstige gebeurtenisse nie ongemerk by Rathlosen sou verbytrek nie, en die geskiedenis gee ‘n paar aanduidings. Soos die woude stelselmatig afgekap is, sou die ekonomie van die area ook maar geleidelik omgeskakel het van bosbou na landbou en veeteelt, om aan die lewe te bly.

In my navorsing het ek afgekom op ‘n dorpie met die naam van Weyhe so 40km noord van Rathlosen. Omdat hulle so naby mekaar is glo ek dat hulle geskiedenis sekerlik nie baie sal verskil van Rathlosen s’n nie. Die naam van die plekkie is reeds in 789 aangeteken in ‘n profesie van die toentertydse biskop Willebad van Bremen, oor wondere wat in 860 na Paasfees in die Dom in Bremen sou geskied – “ Verder was daar ‘n meisie van Weyhe wat reeds vir ‘n lang tyd verswak was in al haar ledemate, en geen krag meer in haar liggaam gehad het nie. Sy is na die graf van die heilige gebring, en daar het God haar in sy goedheid die gebruik van haar ledemate en die krag in haar liggaam teruggegee.”

Hierdie dorpie was van meet af aan baseer op landbou en veeteelt, en totaal blootgestel aan die onstuimighede van die geskiedenis deur die eeue.

Van die moeilikste tye vir hulle was sekerlik die tyd van die sogenaamde roofridders in die 13e en 14e eeue, toe bendes van ridders wat nie aan enige van die heersende adel of konings verbonde was nie, reisigers aangeval het en op die landelike bevolking geteer het. Ook later, tydens die oorloë tussen stadregerings en hulle naburige graafskappe, het boere gely omdat die vegtende magte plase afgebrand het, oeste vernietig het en die vee weggedryf het.

Eers in die 16e eeu het dinge begin stabiliseer, toe die regte van boere en hulle bydrae tot die ekonomie erkenning begin kry het. Geleidelik het gebruike soos knegskappe. pagters en leenboere verdwyn, en het boere ekonomies sterker begin word deur besit van plase en eiendomme waarvan die erfreg gevestig was, en belastings in die vorm van opgawe van gedeeltes van die oeste begin afneem het.

Vanaf 1500 tot 1600 het die aard en omvang van boerdery ook nuwe gestalte gekry, amper ‘n grondhervorming volgens moderne begrippe. Van die beter plase is in kleiner plase opgedeel wat aan die boer se seuns toegeken is, kleiner boere het subsidies ontvang, en plakkers, aanbouers en nuwe bouers het ‘n steeds toenemende boeregemeenskap gevorm.

Hierdie relatiewe welvarendheid is egter ook getemper deur verskeie terugslae, soos elke boer uit bittere ondervinding sal kan getuig. Veeteelt was deur die jare heen vir die boere in die streek baie meer belangrik as gesaaides, en boere het kwaai verliese gely as gevolg van ‘n verskeidenheid veesiektes wat uitgebreek het, en soms dekades geneem het om te oorkom. Verder was daar ook nog in 1618 en 1645 vernietigende oorstromings wat die landstreek geteister het.

Ook die menslike bevolking van die omgewing is nie gespaar nie. In 1347 het die pes (die Swart Dood) in die noorde van Duitsland uitgebreek. Menige dorpies en nedersettings het eenvoudig van die landkaart verdwyn omdat hulle totale bevolkings gesterf het. In Bremen is omtrent 16% van die inwoners uitgewis teen ‘n tempo van tot 200 sterftes per dag! In 1430 het dit weer gebeur, en toe weer in 1624, 1626 en 1627, gedurende die 30-jarige Oorlog.

Asof peste en plae en natuurrampe nie genoeg is om ‘n mens se moed te breek nie, moes hulle verder ook nog gebuk gaan onder die gevolge van regeerders wat nie in vrede met mekaar kon lewe nie, en gedurig in geweldadige onderonsies betrokke geraak het.

Die 30-jarige Oorlog het tussen 1618 en 1648 gewoed, hoofsaaklik in Duitsland, alhoewel omringende nasies, en later groot gedeeltes van Europa daarby betrokke geraak het. Dit het aanvanklik begin as ‘n nuwe geloofskonflik tussen Protestante en Katolieke in die Heilige Roomse Keiserryk, en het daarvandaan uitgebrei – nie altyd oor geloofsredes nie. Die oorlog mag dertig jaar geduur het, maar die gevolge was verreikend, en het konflikte veroorsaak wat nog vir baie jare onopgelos voortgeduur het.

Groot leërs huursoldate is in hierdie oorlog deur die vegtende partye gebruik. Vir Duitsland was een van die ergste gevolge daarvan die feit dat groot gedeeltes van die land eenvoudig totaal gestroop en verwoes is deur troepe wat die landskap geplunder het op soek na proviand. Deur die verloop van die oorlog het die bevolking van die Duitse state met omtrent 30% verminder. In sommige areas het bykans twee derdes van die totale bevolking omgekom, en oor die algemeen is die manlike bevolking amper halveer. Gedurende hulle bewind het alleen die Sweedse leërs 2000 kastele, 18 000 nedersettings en 1 500 dorpe (bykans een derde van alle Duitse dorpe!) vernietig.

WikiPedia en ander bronne bied veel meer leesstof oor die onderwerp, en ek sal maar net ‘n opsomming hier verskaf.

Die Vrede van Augsburg in 1555 het die 1526 Diet van Speyer bevestig, en ‘n einde gebring aan die geweld tussen die Katolieke Kerk in Duitsland en Luther se volgelinge. Dit het die Protestantse geloof amptelike erkenning gegee, en die 225 Duitse prinse toegelaat om elkeen sy eie geloof te kies vir sy gebied. Dit het egter nie ‘n permanente raamwerk geskep vir godsdienstige vrede nie. Daarby het Calvinisme ook sterk in die daaropvolgende jare begin versprei in die noorde van Duitsland. Verskeie van die regeerders het hierdie nuwe geloof aanvaar, en begin om Katolieke eiendomme oor te neem.

Daar was nou drie sterk geloofsgroepe in Duitsland, maar Calvinisme het geen erkenning geniet ooreenkomstig die Vrede van Augsburg nie, aangesien slegs die Katolieke en Protestante betrokke was daarby, en dit het heelwat wrywing veroorsaak. Meeste van die regeringsliggame was steeds in die hande van Katolieke, en omdat die Protestante hulle wantrou het, het die hele regeringsmeganisme gevolglik te gronde begin gaan. Steeds toenemende wrywing en dreigende geweld het tot gevolg gehad dat die Katolieke ‘n gewapende alliansie gevorm het onder Maximilian I van Bavaria, terwyl die Protestante hulleself by Friedrich V van die Rynse Palatinaat geskaar het.

Die Boheemse Rebellie (1618 – 1622)

Tot die konsternasie van hulle Spaanse newe het die Habsburgs om vredeswil anderpad gekyk toe verskeie van die elite in Oostenryk, Bohemië en Morawië hulle posisie misbruik het om godsdiensvryheid vir hulleself toe te eien. Aanhangers van godsdienstige eenvormigheid was nie hiermee gediend nie, en verskeie konflikte het weereens tussen die geloofsgroepe begin opvlam.

In Mei 1618 stuur die katolieke kroonprins Ferdinand II van Bohemië, en aangewese opvolger vir die Heilige Roomse Keiser Mathias, twee gesante na Praag om die stad in sy afwesigheid te regeer, Die Hussiete (Protestantse volgelinge van Johan Hus) neem hulle uit protes gevange, verhoor hulle, en gooi hulle en hulle skriba deur die kasteel se venster, ongeveer 16m bo die grond. Hulle kom egter ongedeerd daarvan af, aangesien hulle blykbaar in ‘n hoop perdemis beland het.

Hierdie rebellie het vinnig deur Bohemië versprei, en Mathias se dood het die Protestante meer waagmoedig gemaak op ‘n tydstip toe hulle reeds bereid was om vrede te maak. Aanvanklik was hulle suksesvol, en op 17 Augustus 1619 slaag hulle om Ferdinand II af te set nadat hy die troon by Mathias oorgeneem het, en Friedrich V as koning te kroon. Die oproer in Oos-Europa was egter nognie verby nie, in veral in Transsilvanië het die konflik voortgewoed.

Spanje gryp toe in, en stuur ’n leër uit Brussels om die afgesette Keiser te ondersteun. Terwyl die katolieke Generaal Tilly se leërs die opstand in die noorde van Oostenryk onderdruk, val die Keiser s’n die suide in. Hulle kom bymekaar, en gesamentlik val hulle Bohemië in, en verslaan Friedrich V oortuigend op 8 November 1620 by die Slag van Witberg naby Praag. Spanje wou egter steeds die beheer oor die Nederlande terugkry wat hulle kort na die aanvang van die 80-jarige Oorlog in 1568 verloor het, en het dit as ‘n gulde geleentheid beskou om die Rynse Palatinaat oor te neem om daardie oorlog te hervat.

Die Nederlande het nie kans gesien het vir ‘n sterk Spaanse teenwoordigheid op die Rynrivier nie. en het die Protestantse Alliansie tussen 1621 en 1624 vergeefs probeer ondersteun om die Rynse Palatinaat terug te wen. Die oorblyfsels van die Protestantse leërs het na die Nederlande gevlug, maar kon nie permanent daar gehuisves word nie. Hulle word dus afbetaal en oor die grens na die naburige Oos-Friesland gestuur om dit te beset. ‘n Gedeelte van die vlugtelinge het daar gebly, maar sommige het onder aanvoering van Christian van Braunschweig oor die grense teruggedwaal na die Nedersaksiese Sirkel om hulle broeders daar te ‘ondersteun.’

Hierdie bedrywighede het Tilly se aandag getrek, en op 6 Augustus 1623 haal hy hulle naby by die Nederlandse grens in, en wis meer as 80% van die lëer uit in ‘n oortuigende oorwinning. Die Graafskap van Hoya, waarvan Rathlosen en Sulingen deel was, lê suidoos van Oos-Friesland, en die waarskynlikheid is groot dat Tilly regdeur hierdie sou moes trek in sy agtervolging van Christian se lëer.

Die Deense Ingreep (1625 – 1629)

Buitelandse regerings wat gekant was teen die Habsburgs kon nie hierdie toedrag van sake duld nie, en in Maart 1624 sluit Engeland, Frankryk en die Nederlande ‘n verdrag met Christian IV van Denemarke om hulle teen te staan. Christian IV was op daardie stadium nie net koning van Denemarke nie, maar ook Graaf van Holstein, en het gevolglik reeds uitgebreide eiendom in die noorde van Duitsland besit.

Hierdie verdrag het nie ongemerk by die Katolieke Alliansie verbygegaan nie, en hulle roep die hulp in van die Boheemse edelman Albrecht von Wallenstein, wat ryk geword het uit die gekonfiskeerde eiendomme van sy landgenote. Wallenstein het tussen 30 000 en 100 000 soldate onder sy beheer gehad, en maak hulle aan die Alliansie beskikbaar op voorwaarde dat hy oorwonne landgebiede mag plunder. Onder ‘n gekombineerde aanval kry Tilly opdrag om op te ruk na Duitsland, en op 15 Julie 1625 val hy die Nedersaksiese Sirkel oor die Weserrivier binne.

Tilly se magte het vinnig opgeruk tot by Hamelin en Minden, en ongekende verwoesting op hulle pad agtergelaat. Die alliansie tussen Engeland, Nederland en Denemarke het as gevolg daarvan in November 1625 hulle verdrag by den Haag finaliseer, en van Christian IV verwag om ‘n staande mag van 30 000 infanterie en 8 000 berede troepe in Syke op die been te bring. Hiervoor sou Engeland hom 300 000 Taler per maand betaal, en die Nederlande ‘n verdere 50 000.

Al hierdie soldate is by die plaaslike bevolking inkwartier, en dit het nie sonder gevolge verbygetrek nie. Daar is vele stories oor hierdie besetting en hoe die Dene hulleself te buite gegaan het.

Christian IV verloor op 27 Augustus 1626 by Lutter am Barenberge (naby Salzgitter in Sakse) die oorlog oortuigend teen Tilly, en ingevolge die Vrede van Lübeck (22 Mei 1629) behou hy sy koningskap oor Denemarke en sy eiendomme in Holstein net op voorwaarde dat hy sy ondersteuning van die Protestantse Duitse state onttrek.

Relatiewe vrede het ingetree namate Tilly se huursoldate die gebied verlaat het, maar dit het nie voorspoed tot gevolg gehad nie. Die oorlogskuld van die Graafskap van Hoya het in byvoorbeeld in 1628 die ongehoorde bedrag van 2 500 000 Taler beloop, en dit is deur verhoogde belastings op die boere ingewin, omdat die Burg Syke en die Fort Drye ‘deur sterk garnisoene verdedig moes word’.

Die opmerking word gemaak dat Weyhe ‘ten spyte van al hierdie teenslae en leed nie naastenby soveel geteister is as die suidelike streke van Hoya, wat meer in die gevegsgebied gelê het nie.’ Hierdie suidelike gebiede het Rathlosen en Sulingen ingesluit.

Die Sweedse Ingreep (1630 -1635)

Gustavus Adolphus van Swede was nie gediend met die toenemende invloed van die Habsburgs aan die Baltiese kus nie, en val die noorde van Duitsland in 1630 binne. Gefinansier deur Frankryk en die Nederlande, en met die ondersteuning van die Elektor van Sakse, oorwin Gustavus Adolphus maklik die Katolieke Alliansie, en beset groot gedeeltes van die suide van Duitsland, tot sover as München. In die proses oorwin hy Tilly se leërs tweemaal, en sneuwel Tilly in 1632 tydens die tweede veldslag.

Ferdinand II word hierdeur genoodsaak om weer Wallenstein se hulp in te roep, en met finansiering deur Spanje mobiliseer die Keiser 70 000 troepe, en slaag hulle daarin om Gustavus Adolphus terug te dryf na die noorde. Op 15 November 1632 is daar ‘n veldslag by Lützen wat onbeslis eindig, maar Gustavus Adolphus se dood tot gevolg het. Sy enigste troonopvolger was sy sesjarige dogter, en dit het die einde beteken van Swede se invloed in Duitsland.

Daar was nog ‘n hele paar veldslae na Gustavus Adolphus se dood, maar sonder sy leierskap het hulle geen suksesse gehad nie, en word vrede uiteindelik in 1635 by Praag gesluit.

Die voorwaardes van hierdie verdrag was nie vir Frankryk aanvaarbaar nie, omdat die Habsburgs se magsbasis aansienlik daardeur versterk was.

Die Franse Ingreep (1636 – 1648)

Frankryk was oorwegend Katoliek, maar hulle was die Heilige Roomse Keiserryk, en veral die Habsburgs, vyandig gesind, omdat heelwat grondgebied (insluitende gedeeltes van Nederland) aan die oostelike grense van Frankryk onder hulle beheer was.

In Mei 1635 verklaar Kardinaal Richelieu oorlog teen Spanje, en in Augustus 1636 teen die Heilige Roomse Keiserryk, met amper katastrofiese gevolge vir Frankryk. Onder aanvoering van die Generaal von Werth en die Spaanse Kardinaal Ferdinand Habsburg val Imperiale magte Frankryk binne en verwoes die Frans provinsies Champagne, Bourgogne en Picardie, en bedreig Parys self in 1635 voordat hulle teruggedryf word. In 1642 sterf Richelieu, en ‘n jaar later ook Louis XIII van Frankryk, wat sy 5-jarige seun op die troon agterlaat.

Ten spyte hiervan word die oorlog teen die Habsburgs suksesvol verder gevoer, en word die Imperiale magte teruggedryf totdat slegs die Imperiale eiendomme in Oostenryk in die hande van die Keiser agterbly. Die Vrede van Wesfale, bestaande uit twee verdrae wat onderskeidelik op 15 Mei 1648 in Osnabrück en 24 Oktober 1648 in Münster onderteken word, bring uiteindelik ‘n einde aan beide die 30-jarige en 80-jarige Oorloë.

Dit laat egter ‘n ryke erfenis van hongersnood en siektes soos tifus, disenterie en skeerbuik agter, tesame met grootskaalse ontvolking.

Vrede

Jürgen se pa Hinrich Hannekohm is vermoedelik kort na die einde van die 30-jarige Oorlog gebore, en ek glo dit was ‘n tyd van geweldige armoede en swaarkry om te oorleef terwyl die land herstel het van die verwoesting wat dit ondervind het, en die lewe begin terugkeer het na iets wat ‘normaal’ genoem kan word.

Jürgen self is gebore kwalik 30 jaar na afloop van die oorlog, en ‘n mens kan net wonder tot watter mate sy kinderjare nog so deur swaarkry geteister is dat hy op 17 of 18-jarige leeftyd besluit het om sy ouerhuis te verlaat en elders ‘n heenkome te soek.

Hy het natuurlik die latere gebeurtenisse in Rathlosen vrygespring deur sy emigrasie, en vir alle prakties doeleindes is die geskiedenis van die streek daarna nie vir ons belangrik nie. Omdat Rathlosen egter tans in die Duitse land Nedersakse geleë is, mag dit dalk vir besoekers aan hierdie webwerf interessant wees om die geskiedenis maar ‘n bietjie verder te volg.

Dit het baie jare geneem vir die streek om sosiaal en ekonomies te herstel. Die huursoldate is stadigaan afbetaal, maar meeste van hulle het nêrens gehad waarheen hulle kon terugkeer nie, en het in roofbendes deur die omgewing getrek. Duisende werkloses het rondgeswerf tussen tydelike werk en tydelike rowery. Dit het ‘n hele paar jaar geduur vir wet en orde om te vestig, en in sekere areas was daar nog Sweedse troepe tot in 1650.

Die enkele woord wat Duitsland na die oorlog beskryf het is ‘agteruitgang’. Alhoewel toestande van streek tot streek verskil het, is dit tog interessant om sommige van die statistieke te beskou: Die ontvolking was so kwaai dat in Brandenburg 50%-60% van plase verlate gelê het. In die dorp Stendal in die weste van Brandenburg is daar 2 980 kinders gebore tussen 1600 en 1610. In die periode 1660-1670 is daar slegs 969 gebore. In die Graafskap van Württemberg het ‘n sensus in 1652 ‘n verlies van meer as 40 000 huise en skure getoon, asook ‘n verlies van meer as 58 000 inwoners.

In die Rynse Palatinaat ten weste van Rahlosen het dit ook maar beroerd gegaan. Charl Louis, Friedrich se seun, het die streek na die 30-jarige Oorlog bekom, maar ten spyte van sy beste pogings om die streek te verbeter was die belasbare inkomste selfs in 1673 nog maar ‘n kwart van die inkomste in 1618. Sekere inligtingsbronne beweer dat Duitsland eers teen die middel van die 19e eeu weer ekonomies en sosiaal herstel het.

Die Vrede van Wesfale het aansienlike grensverskuiwings meegebring, maar dit wil voorkom of Rathlosen en Sulingen nie daardeur geraak is nie, aangesien die Graafskap van Hoya se status nie verander het nie.

Engelse Heerskappy

George Louis was die oudste seun van Ernest Augustus, Graaf van Braunschweig-Lüneburg, en is in 1660 in Osnabrück gebore. Sy ma was Sophia van die Rynse Palatinaat, en kleindogter van Koning James I van Engeland aan haar ma se kant. Terwyl George grootgeword het, sterf sy ooms een na die ander sonder erfgename, en kom die beheer van hulle eiendomme onder Friedrich Augustus se beheer. So word Ernest Augustus dan in 1679 ook heersende Graaf van Calenberg-Göttingen, met Hanover as hoofstad. Na sy pa se afsterwe in 1698 erf George al sy pa se eiendomme en titels, en word ook Prins-Elektor van die Heilige Roomse Keiserryk.

Kort na hierdie gebeurtenisse sterf Prins William, troonopvolger van die Britse en Skotse Koninkryke onverwags. Uit vrees dat ‘n katolieke familielid dalk op die troon mag aanspraak doen, vaardig die Engelse parlement ‘n wet af wat George se ma Sophia aanwys as troonopvolger indien Koning William III en sy skoonsuster Anne, later Koningin Anne, sonder opvolgers sou sterf. Sy was die naaste protestantse familielid, maar meer as 50 katolieke familielede is in die proses gespring. William III sterf inderdaad in Maart 1702 sonder opvolger, en Sophia word onmiddelik troonopvolger na Anne, wat die troon van Engeland bestyg.

In 1708 word George aangewys as die Elektor van Hanover, en word die Graafskappe van Diepholz en Hoya ook aan hom toegeken. In 1714 sterf eers Sophia, en ‘n paar weke later Koningin Anne, en so word George Louis gekroon as Koning George I van Groot Brittanje. Sy seun George II volg hom in 1727 op, en die se seun George III bestyg in 1801 die troon van die Verenigde Koninkryk van Groot Brittanje en Skotland.

Die Napoleontiese Oorlog

George III en Napoleon was aartsvyande, en weereens het die mense van Hanover in die middel beland. Napoleon kon Engeland nie oorland bereik nie, en op see was hy nie teen die Engelse vloot opgewasse nie. Hy stuur toe maar sy Generaal Mortier met 16 000 man om Hanover op 16 Mei 1803 deur Holland aan te val. In Hanover was die mense deur vrees lamgelê, want Generaal Wallmoden het slegs 8 000 slegbewapende soldate gehad om hulle te verdedig. Wallmoden kry toe opdrag om maar min te skiet en sy bajonette oordeelkundig te gebruik, sodat hulle nie die Franse sou kwaad maak om wraak te neem as Hanover sou verloor nie.

Die twee leërs het by Sulingen ontmoet, maar geen geveg het plaasgevind nie, want ‘n krygsraad is gehou, en ‘n vredesverdrag is in die huis van die Superintendent van Sulingen onderteken. ‘n Voorwaarde vir hierdie vrede was dat die magte van Hanover moes terugtrek tot anderkant die Elbe, en dan ontbind moes word. Al die wapens en perde het in die Franse se hande beland, en hulle het die hele landskap beset.

George III wou as koning van Engeland nie hierdie vredesooreenkoms erken nie. Dit het egter nie die plaaslike omstandighede verander nie, en net die volk van die gebied het daaronder gely, want hulle moes vir ‘n lang tyd 30 000 Franse soldate huisves en versorg. Baie jong mans van Hanover het in hierdie tyd die land verlaat en na Engeland gegaan om by die ‘Koninklike Duitse Legioen’ aan te sluit. Hierdie Legioen het in veldslagte teen die Franse in Portugal en Spanje vir hulleself naam gemaak.

Op 14 September 1805 verlaat die Franse uiteindelik die land, en kom die streek Hanover onder die beheer van Pruise. Kwalik ‘n jaar later val Pruise egter self vir Napoleon aan, en verloor. Na die Vrede van Tilsit in 1807 en die formele ontbinding van die Heilige Roomse Keiserryk word die streek aan die Koninkryk van Wesfale toegeken en deur Napoleon se broer Jerome regeer. In 1810 word die hele Graafskap van Hoya met Frankryk verenig, en daarna bly die hele streek van Hanover onder Franse beheer tot Oktober 1813, toe Russiese kosakke die streek binneval as deel van die oorlog wat steeds tussen Frankryk en Rusland gewoed het. By die Slag van Leipzig later dieselfde maand word Napoleon beslissend verslaan, en kom die Franse Ryk se teenwoordigheid oos van die Ryn tot ‘n einde.

Die Slag van Leipzig word beskou as die grootse Europese veldslag voor die Wêreldoorloë, met meer as 500 000 troepe daarby betrokke. Dit het op Duitse bodem plaasgevind, en het Duitse troepe teen Duitse troepe laat veg, omdat ‘n groot deel van Napoleon se soldate uit Wesfale gekom het. Hoeveel hiervan uit die omgewing van Rathlosen of Sulingen gekom het, is nie bekend nie.

In 1813 word Hanover uiteindelik teruggegee aan George III, en in 1814 word Hanover by die Kongres van Wenen tot koninkryk verhef.

Na die einde van die Napoleontiese Oorloë is die Duitse State in ‘n los konfederasie onder Oostenrykse leierskap saamgesnoer. En toe begin ‘n sterk gevoel van Duitse nasionalisme posvat, aangeblaas deur die triomfantelike Franse nasionalisme onder Napoleon.

Die Duitse Rebellie

Vroeg in die 19e eeu begin daar ‘n sterk beweging van liberale en demokratiese weerstand in Duitsland posvat. Alhoewel daar baie verskillende politieke oortuigings was, soek almal sulke basiese regte soos vryheid van die pers, oordeel deur ‘n jurie, konstitusionele regeringstelsels, en vereniging van die Duitse State in een Nasie-staat.

Sosiale en politieke wrywing het begin toeneem teen die einde van 1847, namate die gevolge van ‘n ekonomiese krisis, insluitende ‘n mislukte oes wat voedseloproer veroorsaak het deur Europa begin versprei het. Uiteindelik, aangevuur deur ‘n opstand in Parys, vind daar gewapende opstande in Berlyn en Wenen plaas. Duitse heersers reageer deur toestaan van konsessies soos liberale konstitusies, die aanstelling van liberales in regeringsposte, vryheid van die pers, vryheid om te vergader, asook ‘n nasionale Duitse Parlement.

Die eerste Parlement open op 18 Mei 1848 in Frankfurt, maar dit word gou duidelik dat data te veel verskillende idees is oor dit moet funksioneer. Dit word gou bekend as die Parlement van Professore, want die samestelling word gedomineer deur staatsamptenare en akademici, wat almal hulle intellektuele motivering saambring, maar geen kennis oor wat prakties bereikbaar is nie. Afgesien van die ideologiese en politiese verskille tussen afgevaardigdes word hulle werksaamhede gekniehalter deur die gebrek aan behoorlike prosedures, en bespreking van elke punt op die agenda loop uit op ‘n veelvoud van petisies, mosies en toesprake.

Ten spyte hiervan slaag die Parlement tog gedurende die somer van 1848 om ‘n Handves van Basiese Regte vir die Duitse Volk saam te stel wat gelyke geleenthede en gelykheid voor die reg dokumenteer. In hulle ander groot opdrag, die formulering van ‘n enkele Duitse Staat, was hulle nie so suksesvol nie.

Die begeerte van meeste Duitse nasionaliste was die uiteindelike vereniging van alle Duitse state in een Duitsland, maar soos gewoonlik het die politici ander idees gehad, en ontwikkel daar toe twee opponerende hoofstrome van gedagtes. Die een gedagte was die samesnoering van alle Duitssprekende lande in een verenigde Grootduitsland, insluitend en onder dominasie van die multinasionale ryk van Oostenryk. Die ander was ‘n Kleinduitsland wat selfs die Duitssprekende gedeeltes van Oostenryk sou uitsluit, onder beheer van Pruise.

Die twis tussen die verskillende faksies het so hoogty gevier dat ‘n groot aantal liberale verteenwoordigers eenvoudig moed opgegee het, en gedurende 1849 die Parlement verlaat het, en uiteindelik is dit deur Württemberg ontbind. Die suksesse van die somer van 1848 is in meeste state herroep, en teen 1851 is ook die Handves van Basiese Regte omtrent orals afgeskryf.

‘n Verenigde Duitsland

Otto, Graaf van Bismarck was na sy verkiesing tot die Landtag van Pruise in 1849 as jong politikus gekant teen die idee van ‘n enkele Duitsland, want hy was bevrees dat Pruise sy onafhanklikheid sou verloor in so ‘n staat. Gedurende agt jaar as Pruisiese Afgevaardigde by die Duitse Konfederasie in Frankfurt, en ‘n verdere vier jaar as Ambassadeur na die Russiese Keiserryk in St Petersburg, het sy idees egter verander, en het hy ‘n sterk voorstander geword vir die Kleinduitsland konsep. In 1862 word hy aangestel as Minister-President van Pruise. As gevolg van sy sterk monargistiese idees was ‘n nie ‘n gewilde politikus nie, en vier jaar van groeiende onstabiliteit volg. Verskeie versoeke word aan die Koning gerig om Bismarck te ontslaan, maar hy behou die Koning se vertroue ten spyte daarvan.

In 1863 sterf Friedrich VII van Denemarke, en ontstaan daar probleme toe beide Friedrich se seun, Christian IX van Denemarke en die Duitse Prins Friedrich von Augustenburg altwee op beheer oor die Graafskappe van Schleswig en Holstein aanspraak maak. Alhoewel Bismarck teen publieke Pruisiese opinie Denemarke se kant kies, maak hy tog openlik beswaar toe Christian IX die Graafskappe annekseer, en rig hy ‘n ultimatum aan Denemarke om Schleswig se vorige status te herstel.

Chistian IX weier, en Pruise en Oostenryk val Schleswig aan. Na ‘n kort oorlog van kwalik 9 maande in 1864 word Denemarke forseer om albei Graafskappe prys te gee. Bismarck oortuig Oostenryk om in te stem dat Schleswig by Pruise ingelyf word en Holstein by Oostenryk. In 1866 draai Oostenryk egter teen die ooreenkoms, en vereis dat die Diet van die Duitse Konfederasie moet besluit wat met die twee Graafskappe moet gebeur.

Bismarck het dit as ‘n verskoning gebruik om Oostenryk aan te val, en beset Holstein. Oostenryk soek hulp by die ander Duitse State, en vinnig ontstaan die Pruisies-Oostenrykse Oorlog. Tot die verbasing van die res van Europa wen Pruise die oorlog binne 7 weke in 1866, en na die Vrede van Praag word die Duitse Konfederasie ontbind. Pruise annekseer Schleswig, Holstein, Frankfurt, Hesse-Kassel, Nassau, en ook die Koninkryk van Hanover wat hulleself gedurende die oorlog by Oostenryk geskaar het. Oostenryk onderneem as teenprestasie om nie in te meng in Duitse politiek nie.

Tot watter mate hierdie gebeure die bevolking direk geraak het is iets waaroor ‘n mens net kan bespiegel, omdat Hanover self nooit direk betrokke geraak by die pas afgelope oorlog nie. Na die oorlog word die Koninkryk van Hanover egter ontbind, en word dit as die Provinsie Hanover deur Pruise annekseer.

Een van die voorwaardes van die Vrede van Praag was dat die afgesette George V as Koning van Engeland 50% van sy bates as Koning van Hanover kon behou, maar Bismarck beskuldig George V van ‘n sameswering teen die Duitse Staat, en lê beslag op die afgesette Koning se bates.

In 1870 sou hy van die fondse wat hy so bekom het gebruik om Koning Ludwig II van Bavaria te oortuig om in te stem tot die aanwysing van Wilhelm I as Duitse Keiser.

In 1867 vorm Pruise en verskeie ander Noord-Duitse State die Noord-Duitse Konfederasie, met Koning Wilhelm I as president, en Bismarck as kanselier. Hierdie nuwe Duitse Staat se invloed is veel sterker as die van Oostenryk, en vorm die grondslag van die verhouding tussen die twee lande in die aanloop tot die twee Wêreldoorloë.

Daar was nog steeds nie ‘n gebrek aan wrywing tussen die Europese regeerders nie. Die Franse Keiser Napoleon III was bevrees dat ‘n sterk Duitsland die magsbalans in Europa sou versteur, en Bismarck het niks gedoen om oorlog met Frankryk te vermy nie. Hy was oortuig dat die dreigement van Franse aggressie die nog onafhanklike Duitse State sou verenig agter die Koning van Pruise, en het enige moontlike insident probeer manipuleer om hierdie doel te bereik.

So ‘n verskoning het ontstaan toe die Duitse Prins Leopold van Hohenzollern-Sigmaringen die Spaanse troon aangebied is. Frankryk het dit teengestaan en van Spanje versekering vereis dat geen lid van die Hohenzollern-familie ooit of die Spaanse troon geplaas sou word nie.

Deur die plasing van ‘n misleidende koerantberig slaag Bismarck daarin om Frankryk uit te lok om op 14 Julie 1870 oorlog te verklaar. Dit is presies wat Bismarck wou gehad het, en al die Duitse State snoer in ‘n vlaag van nasionalisme en patriotiese doelgerigtheid saam en mobiliseer troepe om die aggressor af te weer. Frankryk kom gou agter dat hulle meer afgebyt het as wat hulle kon kou, want hulle verloor binne ‘n maand al die belangrike veldslae, en binne minder as tien maande ook die hele oorlog. Frankryk moet hulle provinsie Alsace, asook ‘n gedeelte van Lorraine afstaan as oorlogsbuit om hulle ‘op die verdediging’ te hou.

Bismarck maak onmiddelik daarvan werk om Duitsland te verenig, en na suksesvolle onderhandelinge met verteenwoordigers van die suidelike Duitse State word Koning Wilhelm van Pruise op 18 Januarie 1871 as Duitse Keiser uitgeroep. Tot groot vernedering van die Franse vind hierdie funksie plaas in die Spieëlsaal van die Paleis van Versailles in Parys, die tradisionele setel van die Franse regering!

Tussen 1871 en 1878 het Bismarck baie hard probeer om die invloed van die Katolieke Kerk in Duitsland te verminder, maar hierin was hy totaal onsuksesvol. Hy het aanvanklik heelwat ondersteuning van die Nasionale Liberale Party ontvang, maar sy pogings om die invloed van die Lang Depressie wat in 1873 ontstaan het na die ineenstorting van die Weense Aandelemark het hulle vervreem, en teen 1879 was feitlik alle bande met hom verbreek.

Die groei van die Sosiaal-Demokratiese Party het Bismarck ook bekommer, en hy het hom met mag en menig geweer teen hulle steeds toenemende invloed. Toe sy pogings om hulle deur wetgewing aan bande te lê misluk, begin hy met ‘n program van sosiale hervorming om die werkersklas tevrede te stel. Deur sy bemiddeling word die Wet op Gesondheidsversekering in 1883 gepromulgeer waarvolgens werknemers 2/3 van die premies sou betaal, en werkgewers die res.

Wette op ongevalledekking volg in 1884, en ouderdomspensioen en ongeskiktheidsdekking in 1889. Hierdeur kom die eerste praktiese arbeidswetgewing in Europa tot stand. Dit maak Bismarck egter nie meer gewild by die werkersklas nie, want sy konserwatiewe idees het hulle nie aangestaan nie.

Keiser Wilhelm I sterf in 1888, en kanker eis drie maande later die lewe van sy seun Friedrich III wat hom opvolg. Hy word opgevolg deur sy seun Wilhelm II wat gekant is teen Bismarck se versigtige buitelandse beleid, en ‘n kragtige en vinnige uitbreiding van Duitsland se ‘plek in die son’ voorstaan.

Konflik oor verskeie beleidsrigtings het ‘n wig tussen Wilhelm II en Bismarck gedryf, en die gaping het al groter geword. Op aandrang van Wilhelm III bedank Bismarck uiteindelik in 1890.

Die Nuwe Rigting

Een van die faktore wat aanleiding gegee het tot die vervreemding tussen Wilhelm II en Bismarck, was die Keiser se aandrang op die reg om nie net die land te regeer nie, maar dit ook te bestuur.

Bismarck word dus opgevolg deur ‘n aantal kanseliers wat senior staatsamptenare was, nie gesoute diplomate soos Bismarck nie. Sekere kommentators huldig die mening dat Wilhelm II deur Bismarck se afdanking effektief Duitsland se enige kans verbrou het om ‘n effektiewe en stabiele regering te ontwikkel, en dat hierdie koersloosheid aanleiding gegee het tot die probleme wat die twee Wêreldoorloë voorafgegaan het.

Eerste Wêreldoorlog

Gedurende hierdie oorlog was daar ‘n groot militêre versorgingseenheid in Weyhe gevestig, asook by Bassum, Diepholz en Osnabrück verder suid.

As gevolg van blokkades het baie min invoergoedere Duitsland bereik, en het die las van voorsiening vir die troepe en die bevolking weer op die boeregemeenskap gerus. Al gou het ‘n tekort aan voer die totale ineenstorting van die varkboerderye beteken. Van ‘n bedryf wat voor die oorlog tot 100 varke elke 3 maande op elke plaas geslag het, het daar niks oorgebly nie. Voer wat nog beskikbaar was het teen 7x die vooroorlogse pryse verkoop, en die hoeveelheid voer wat nodig was vir die snelproduksie was nie net onbekombaar nie, maar ook onbetaalbaar.

Aan die einde van die oorlog het matrose in Bremen gemuit en die reg in eie hande geneem, en ‘n situasie wat alreeds chaoties was nog verder deurmekaargekrap. Hulle het ook soldate wat van die fronte teruggekeer het ontwapen en totale verwarring geskep. Die situasie het so erg geword dat die regering in Berlyn in Januarie 1919 besluit het om ‘n einde daaraan te maak, en troepe na Bremen gestuur het om die oproer te onderdruk. Hierdie troepe, aangevul met ‘n vrykorps van vrywilligers uit Bremen wat genoeg gehad het van die situasie, het op 4 Februarie 1919 teen 7h30 opgeruk na Bremen, en toe die bevelvoerders teen 15h00 halfbevrore by Bremen aankom was die plaaslike onrus reeds iets van die verlede.

Dit was egter nog nie die einde van die smarte nie, want die geldeenheid het bykans waardeloos geword in die na-oorlogse inflasie. Op 5 Augustus 1923 was die wisselkoers 1.1 miljoen Mark per dollar, en het ‘n paar skoene meer as ‘n miljoen Mark gekos, en ‘n enkele eier 9000 Mark. Vragmotorbestuurders het aangedring op lone van 100 000 Mark per uur, en ongeskoolde arbeid het 37 000 Mark per uur gekos. Teen 28 Oktober 1923 het die lone vir ongeskoolde arbeid gestyg tot 370 miljoen Mark per uur, en het ‘n enkele eier 100 miljoen Mark gekos. Teen 2 Desember 1923 het die inflasiekoers sy hoogtepunt bereik, maar daarna het dit begin afplat en begin daal, gedeeltelik aangevuur deur die implementering van ‘n nuwe geldeenheid, die sogenaamde Rentemark teen ‘n vasgestelde wisselkoers van 4.2 RM per $. Dit het gou die sluikhandel, die swartmark en woekeraars die nek ingeslaan en ekonomiese stabiliteit gebring.

As gevolg van grondverliese, vergoeding vir oorlogskade en ander laste wat deur die Verdrag van Versailles op die Duitse volk gelê is, het die hele ekonomie egter agteruit gegaan, en het die spook van werkloosheid daagliks groter geword, en die bevolking in ellende gedompel.

Die Tweede Wêreldoorlog

Die geweldige vooroorlogse vooruitgang in die ontwikkeling van vliegtuie en hulle aanwending en vermoëns het ‘n nuwe dimensie in oorlogvoering meegebring. Voorheen was die burgerlike bevolking ver weg verwyder van die slagvelde en die verwoesting wat daar plaasgevind het. Nou kon die strydende magte oor hierdie fronte vlieg en oral verwoesting saai, en spoorweë en fabrieke en alles wat kon bydra tot die oorlogspoging het teikens geword. En so het die land en die boerderye weereens die slagoffer geword van vegtende partye. Bremen was een van die belangrikste teikens van die Geallieerde Magte, en omdat dit so naby aan hierdie area was, was die bevolking dikwels die onwillige toeskouers van die nagtelike skouspel van lugafweergeskut, bomme wat ontplof, ens.

Die oorlog was ook nie altyd op ‘n afstand nie, want die hele kusgebied was toegerus met lugafweerbatterye, en so ook elke groot stasie soos die by Weyhe, Bassum, Diepholz en verder suid. Hierdie was belangrike teikens en het gevolglik baie skade verduur. Teen die einde van die oorlog het inwoners die oorlog nog meer persoonlik beleef as gevolg van die nabyheid van die streek aan die Franse en Nederlandse grense, wat veroorsaak het dat hulle die eerste teikens geword het vir die invallende oorwinnaars. Hoe nader die oorlog aan sy einde gekom het, hoe meer desperaat het die verdediging in Bremen geword, en gevolglik hoe heftiger die gevegte in die landelike gebiede en dorpe op pad soontoe.

Hierdie is maar ‘n kort opsomming van al die woelinge in die omgweing van Rathlosen. Daar is nog veel meer te lese op die webwerf van Weyhe vir diegene wat belangstel. Besoek gerus Weyhe se geskiedenisblad Von den Anfängen des Dorfes

Op die bladsy Kirchweyhe im Wandel der Zeit is daar ‘n klompie interessante foto’s van historiese asook meer moderne geboue soos dit in Kirchweyhe aangetref word. Die tweede foto is van die Meinekehof, ‘n tipiese plaashuis, en ek kan my goed verbeel dat Jürgen se ouerhuis ook so gelyk het.

Ongelukkig bestaan ons stamhuis nie meer nie, want dit is omstreeks 1960 afgebreek. Ek het kontak gemaak met ‘n ou inwoner van Rathlosen wat nog die plek kan uitwys waar dit gestaan het, en een van my voorgenome projekte is om baie binnekort soontoe te gaan en foto’s te neem van Rathlosen vir hierde bladsye.

Rathlosen Vandag

Besoek gerus die Webwerf van Rathlosen om insig te kry oor die dorpie se huidige bedrywighede.

Rathlosen het net soos die res van die lande wat voorheen aan Hannover behoort het deur die loop van jare onder verskeie regeerders beland. Sedert die gemeenskapshervorming van 1974 behoort Rathlosen aan Sulingen, in die Landkreis Diepholz van Nedersakse. Meer is hieroor te vinde onder Sulingen se geskiedenis.

Sulingen

Sulingen is die naaste groot dorp aan Rathlosen, en het omtrent 12000 inwoners. Dit is omtrent 7.5 km per pad vanaf Rathlosen, en die naaste kerk aan Rathlosen is daar geleë. Die dorpsnaam Solegon word vir die eerste keer in 1029 aangeteken, en die dorp ontvang presies 900 jaar later stadsregte. Dit was tot 1885 die administratiewe sentrum van die Graafskap Sulingen, maar weens die samesmelting van Sulingen en die Graafskap van Diepholz in 1932, moes dit die status aan Diepholz afstaan.

Die St Nicolai kerk in Sulingen bestaan reeds van voor die jaar 1290, en is heelwaarskynlik die kerk waar Jürgen se geboorte aangeteken is, en waar hy gedoop is. Al hierdie rekords het ongelukkig verlore gegaan in die groot brand van 1719, wat ook groot gedeeltes van Sulingen vernietig het. Op die webwerf Kirchengemeinde Sulingen is daar meer te lees oor die kerk en sy geskiedenis

Besoek gerus ook die Webtuiste van Sulingen en die Fotogallery vir ‘n oorsig oor die dorp en sy bedrywighede.

Die stadswapen van Sulingen dateer terug tot 1581, toe dit nog aan die Graafskap van Hoya behoort het, en die beerklou herinner aan daardie feit. Na die afsterwe van die Hoyas in 1582 het die gebied oorgegaan na die Landgraaf van Hessen-Kassel. Daarna het ‘n turbulente tyd gevolg waarin die regering van die streek rondgegooi is tussen Engeland, Denemarke, Swede, Frankryk en Pruise, soos die lojaliteite van die verskillende adellikes verander het, totdat dit in 1814 na die Weense Kongres aan die Koninkryk van Hanover toegeken is. Hanover is vanaf 1714, toe George Louis, Elektor van Calenberg, Koning van Engeland geword het, tot in 1837 met die afsterwe van William IV van Engeland deur Engelse konings regeer. In 1866 het Pruise die regering deur geweld oorgeneem. Belangstellendes word aangeraai om die Classic Encyclopedia te besoek vir meer inligting oor die geskiedenis van Hannover.

Pruise is na die Tweede Wêreldoorlog ontbind, en die Graafskap van Diepholz is toe aan Nedersakse toegeken

Nedersakse

Hierdie Duitse land het ‘n baie kort bestaan, maar ‘n lang en bloedige geskiedenis. Ek sou daaraan afbreuk doen deur dit op hierdie bladsye op te som, en stel voor jy besoek self die Geskiedenis van Nedersakse. Die bladsy is ongelukkig net in Duits beskikbaar, maar die webwerf is ook in Engels en ander tale beskikbaar vir die wat meer oor die land te wete wil kom.

Alhoewel Rathlosen maar eers redelik onlangs deel van hierdie land geword het, sou dit egter redelik wees om ons onstaan aan Duitsland daaraan te koppel, en aan die kultuur van die land.

Nedersakse het sy eie informele volkslied, wat in 1934 deur Herman Grote geskryf is. Die lirieke en note van Das Niedersachsenlied is op die web beskikbaar, en jy kan ‘n weergawe deur die Duitse sanger Heino op hierdie bladsy vind.