Ek wil sommer dadelik die bespiegeling afmaak dat ‘n plek waar met hoenders geboer is enigsins daarby betrokke was, soos Cor Pama in ‘Die Groot Afrikaanse Familie Naamboek’ beweer het. Ek kon nog geen aanduiding vind dat daar enigsins in Europa gedurende die 12de tot 14de eeue grootskaals met pluimvee geboer is nie. In die omgewing waar Jürgen gebore is was bosbou aanvanklik die belangrikste komponent van hulle ekonomie, en namate die woude verwyn het is daar oorgeslaan na varkboerderye en graanboerdery.

Daar is egter oplossings wat vir my baie meer waarskynlik is.

Die Hebreeuse woord ‘YEHOCHANAN’ en sy verkorte vorm ‘YOCHANAN’ beteken ‘Yahweh (God) is genadig’. Dit het aanleiding gegee tot ‘n groot verskeidenheid noemname in feitlik elke taal, maar in die Dietse tale veral in die volgende vorms

JOHAN (m) Skandinawies, Duits, Tjeggies, Nederland s(>Johannes)
JOHANN (m) Duits, Yslandies (>Johannes)
JOHANNES (m) Duits, Skandinawies, Nederlands, Yslandies (>Ioannes)

 

 

 

En die verkorte vorms

HANKE (m) Duits(>Johan)
HANKIN (m) (Middeleeus) (>John en Henry)
HANNES (m) Nederlands(>Johannes)
HANNU (m) Fins(>Johannes)
HANS (m) Duits, Nederlands, Skandinawies (>Johannes)

 

Voordat familiename algemeen in gebruik geraak het, is manlike nasate dikwels identifiseer deur die verwantskap met hulle vaders, soos bv Piet, Hans se seun, wat dan gelei het tot die gebruik van die agtervoegsels ‘-zoon’, ‘-zsen’ of ‘-sen’ .

In Nederlands word troetelname dikwels hiervan afgelei deur die agtervoegsel ‘-ke’ of ‘-ken’ by doopname te voeg, of in Duits deur ‘-chen’, netsoos ons dit in Afrikaans met ‘-ie’ of ‘-tjie’ doen.

Met hierdie in gedagte neem dit nie ‘n groot sprong van die verbeelding om tot die gevolgtrekking te kom dat name soos HANCKE – HANKE – HANSEN – HANNEKEN – HANEKE – HANDTKE – HANDTSCHKE – HANDCKE – HANKEN – HANKES – HANKEN – HÄNCKE – HÄNEKE – HANNEKUM en HANEKOM almal ontstaan het uit dieselfde stamnaam nie, wie weet, dalk nog almal afstammelinge van dieselfde Hans wat iewers in die geskiedenis wekruip!

As ‘n mens verder wes gaan kyk, vind ‘n mens ook in Engeland familiename wat lyk of Hans daarby betrokke was, in vorms soos HANCOM, HANCORN en selfs HANCOCK.

Ek kon nog in geen geval vir al hierdie familiename ‘n stamvader ontdek wat vroeër dateer as omtrent 1550 nie, wat natuurlik die navorsing aansienlik bemoeilik.

As ek die Europese Telefoongidse bekyk en na die verwante name soek, kry ek die volgende resultate

Familienaam Duitsland Nederland Swede Denemarke
HANEKOM 1 3
HANNEKE 29 177 15 28
HANEKAMP 157 165
HANEKAM 1 1
HANNEKUM 38
HANEKE 124 7

HANCKE

12 1 21 76
HANKE 550 9 42 76
HANNEKEN >1000

HANSEN

>1000 1082 >1000 >1000

 

Die vraag is nou natuurlik – hoe het so ‘n Hebreeuse naam posgevat in die noordelike streke van ‘n land wat nou as Duitsland bekend staan?

Sonder heelwat verdere navorsing kan ek geen bewyse aanbied nie, maar dit lyk of daar tog minstens drie geskiedkundige moontlikhede bestaan.

Sephardim

Die Sephardim verwys na die afstammelinge van Joodse setlaars uit die nabye Ooste wat gedurende die Romeinse tyd in die Iberiese Peninsula (Spanje en Portugal) gewoon het voordat hulle in 1492 eers uit Spanje en in 1497 uit Portugal verjaag is as hulle nie die Katolieke geloof wou aanvaar nie. Die meeste het uitgewyk na Morocco en Algerië, maar sommiges het noord getrek na die suide van Frankryk, en vandaar na België en die Nederlande namate hulle in hulle nuwe tuistes onwelkom gemaak is. Vandaar het sommiges weer op hulle beurt verder noord getrek, en in Hamburg, Altona en Denemarke tuistes gevind.

Ashkenazim

Jode het reeds vroeg in die 4e eeu in Duitsland, of ‘Ashkenaz’ begin setel, alhoewel dit maar ‘n vlietende teenwoordigheid was. Yiddish het daar as ‘n taal ontstaan as gevolg van hulle kontak met verskeie Germaanse spreektale in die middeleeuse periode.

Teen die einde van die eerste millennium was daar reeds gevestigde Joodse gemeenskappe in Wes-Europa, en teen die einde van die 11e eeu in baie stede langs die Rynrivier. Teen die aanvangs van die Kruisoorloë het hulle begin uitwyk na Pole en Lithuanië in die 10e eeu, en na Rusland in die 12e eeu.

Die Kruisoorloë

In die jaar 600 het Pous Gregorius I magtiging gegee vir die bou van ‘n hospitaal in Jerusalem om Christenpelgrims na die Heilige Land te behandel en versorg. Karel die Grote, Keiser van die Heilige Romeinse Ryk, het dit in 800 vergroot, en ‘n biblioteek laat aanbou. In 1005 is die hospitaal en 3000 ander geboue in Jerusalem deur die Caliph Al Hakim vernietig, maar in 1023 het die Egiptiese Caliph Ali az-Zahir ‘n groep handelaars van Amalfi en Salermo in Italië toegelaat om die hospitaal te herbou. Die hospitaal is opgerig op die perseel van die Klooster van die Heilige Johannes die Doper, en Benediktynse monnike het daar na die behoeftes van Christenpelgrims omgesien.

Na die Eerste Kruisvaart in 1099 deur die Geseënde Gerard het hy op 15 Februarie 1113 daar ‘n monastiese ridderorde gevestig. Onder aanvoering van sy opvolger Raymond du Puy de Provence is die oorspronklike hospitaal uitgebrei met ‘n noodhulpstasie naby die Kerk van die Heilige Graf in Jerusalem. Aanvanklik is slegs mediese hulp aan pelgrims verleen, maar dit is stelselmatig aangevul met gewapende begeleiding wat naderhand ‘n aansienlike militêre mag geword het. So het die Hospitaalridders van die Heilige Johannes van Jerusalem tesame met die Tempelridders algou formidabele militêre ordes in die Heilige Land geword. Aanvanklik het hulle swart jurke met ‘n wit kruis oor hulle wapentuig gedra, maar sedert 1248 was die standard ‘n rooi jurk met ‘n wit kruis.

Die opkomende magte van Islam het uiteindelik die ridders uit Jerusalem verdryf, en na die val van die Koninkryk van Jerusalem in 1291 was hulle beperk tot Tripoli, en later die Koninkryk van Ciprus. Alhoewel die Tempelridders in 1312 ontbind is, het die Hospitaalridders van krag tot krag gegaan, met takke in Aragon, Auvergne, Castile, Engeland, Frankryk, Provence, Italië en Duitsland.

Kort na die gronding van die Hospitaalridders het ondersteuners in Wes-Europa grond en ander bates begin skenk om hulle bedrywighede te finansier. So het der Ritterlichen Orden Sankt Johannis vom Spital zu Jerusalem dan ook in Duitssprekende lande ontstaan, met verskeie Abdye in onder andere Nedersakse. Dit het aanleiding gegee to heelparty doopname soos Johannes, Hannes, Hanneke en Hanneken, en ek het ‘n sterk vermoede dat HANEKOM hieruit onstaan het as ‘n verdraaide vorm.

My (onbewese) teorie oor die verspreiding van hierdie families, wat in relatief klein aantalle in Europa en Skandinawië voorkom, is dat die godsdienstige oorloë ‘n groot rol daarby kon gespeel het. Geografies gesproke is Nederland, Vlaandere (voorheen deel van Nederland, nou deel van België), Nedersakse in Duitsland, Denemarke en Swede baie naby aan mekaar – en hierdie lande was almal oorwegend Protestants, en as gevolg daarvan gekant teen die Katolieke magte van Spanje (Frankryk was toe nog onder Spaanse regering) en die Oostenrykse Habsburgdinastie. My vermoede is dat godsdienstige vervolging die oorsaak daarvan was dat my hipotetiese Hans se nasate weggevlug het na plekke waar hulle ‘n veiliger heenkome kon vind. Dit is iets wat ek nog maar sal moet navors.

Net so terloops – hierdie orde bestaan nog steeds in baie dele van die wêreld, en is nog steeds gemoeid met die lewering van mediese dienste, onder andere is St John’s Ambulans een van hulle dienste.