Tot omtrent die middel van die 11e eeu het mense nie vanne (familiename) gehad nie. Elkeen het slegs ‘n enkele naam gehad wat hom identifiseer het. Dit het gewerk terwyl die gemeenskappe nog klein was, maar met verloop van tyd was hierdie praktyk nie meer goed genoeg nie, en is mense later van mekaar onderskei met bykomstige name of beskrywings.

Daar is ‘n eindelose verskeidenheid van bronne vir hierdie bykomstge name. Byname, fisiese eienskappe, dorpsname, streke, lande, beroepe, voorwerpe, kleure, landmerke, verwantskappe, voorkoms, gewoontes, ens – omtrent enigiets wat die mens in sy vindingrykheid kon uitdink, is gebruik. Vir diegene wat belangstel het WikiPedia ‘n interessante bespreking oor die onderwerp in hulle artikel oor Family Names.

Na omtrent 1066 het die Normandiese baronne in Engeland begin om hierdie bykomstige name nie aan individue toe te ken nie, maar aan families, en die gebruik het stelselmatig uitgebrei na ander lande. Teen die einde van die 14e eeu was die gebruik van familiename reeds goed gevestig in Europa, maar in Engeland was die proses nog aan die gang tot amper in die 16e eeu.

Soos mense rondgetrek het, het hulle vanne verander om by hulle nuwe omstandighede te pas – dikwels nie vir onskuldige redes nie. As gevolg van ongeletterdheid en emigrasie na ander lande en tale, is die oorspronklike name ook dikwels verkeerd gespel, verdraai of vertaal, en in die proses soms onherkenbaar verander. Hierdie praktyk is mettertyd deur wetgewing hok geslaan om die proses van belastinginsameling onder beheer te kry.

Ons stamvader Jürgen het ook nie hierdie naamverwarring vrygespring nie . Dit word algemeen aanvaar dat hy Jürgen Hanekom geheet het, maar aan die Kaap het hy self sy naam geteken as Jors HANNEKOOM, of Jurgen HANNEKOM. In amptelike rekords is hy aangeteken met voorname soos Joris, Jurgen, Jurrien en Jurriaan, en is die van soms in dieselfde dokument verskillend gespel. Vorms soos HANEKOM, HANEKOOM, HANEKUM, HANEKAM, HANECAM, HANECOM, HANNEKOOM EN HANNEKOM word telkens aangetref

In my soeke na Jürgen voorvaders en sy regte van het ek in die jare vG (voor Google) elke moontlike soekenjin gebruik om na Hanekom en Rathlosen te soek, en my so na die Duitse telefoongids gewend. In 2000 kon ek egter net een persoon, Dora Hanekom, daarin vind. Ek het vrugteloos op elke beskikbare kuiernet navraag gedoen oor Hanekom en Rathlosen, totdat iemand in Rathlosen my in dieselfde jaar laat weet het dat sy buurvrou voor haar troue ‘n nooi Hannekum was, en gewonder het of dit nie vir my ‘n antwoord was nie….

Skielik het die prentjie vir my verander, want die uitspraak van ‘Hannekum’ in Duits is baie naby aan die Hollandse ‘Hannekoom’ van Jürgen aan die Kaap. En daar was heelwat Hannekums in die telefoongids in die omgewing van Rathlosen. In die enigste kerkrekord van geboortes en huwelike uit die tyd wat ek in Sulingen kon opspoor, is die naam as HANNEKOHM aangeteken, en dit is baie duidelik waar Jürgen aan sy ‘Hannekoom’ gekom het.

Sedertdien het die prentjie egter weer verander, nadat ek in September 2010 die voorreg gehad het om die plaas te besoek waar Jürgen gebore is. Die huidige eienaar het dokumente aan my beskikbaar gestel wat daarop dui dat die familienaam gedurende die 16e eeu as HANNEKOM geskryf was, in registers van die eiendomme in Rathlosen.